Apostoliese gebed

By verskeie gevalle in die Bybel staan  gebede letterlik geskryf.  Hierdie dokument verteenwoordig hierdie gebede in ‘n formaat wat verpersoonlik is sodat jy dit maklik oor jouself kan spreek:

Efesiërs 1:17-23

Here, ek bid dat die God van ons Here Jesus Christus, die Vader aan wie die heerlikheid behoort, deur Sy Gees aan julle wysheid gee en Hom so aan julle openbaar dat julle Hom werklik kan ken.  Ek bid dat Hy julle geestesoë so verhelder dat julle kan weet watter hoop Sy roeping inhou, en watter rykdom daar is in die heerlike erfenis wat Hy vir die gelowiges bestem het, en hoe geweldig groot sy krag is wat Hy uitoefen in ons wat glo. Dit is dieselfde kragtige werking van Sy mag wat Hy uitgeoefen het toe Hy Christus uit die dood opgewek en Hom in die hemel aan Sy regterhand laat sit het:  hoog bo elke mag en gesag, elke krag en heerskappy, en wat daar ook al sprake van mag wees, nie net in hierdie bedeling nie, maar ook in die bedeling wat kom.  Ja, aan Hom het God alles onderwerp, Hom bo alles verhef en Hom aangestel as hoof van die kerk.  Die kerk is sy liggaam, die volheid van Hom wat alles in almal vervul.

Efesiërs 3:14-21

Daarom kniel ek in gebed voor die Vader van ons Here Jesus Christus, aan wie die hele gemeenskap van gelowiges in die hemel en op die aarde sy bestaan te danke het. Ek bid dat Hy deur Sy Gees uit die rykdom van sy heerlikheid aan my  die krag sal gee om innerlik sterk te word, dat Christus deur die geloof in my hart sal woon en dat ek in die liefde gewortel en gegrondves sal wees.  Mag ek  in staat wees om saam met al die gelowiges te begryp hoe wyd, ver, hoog en diep die liefde van Christus wat alle verstand en kennis te bowe gaan, strek. Nou tot Hom wat tot alles in staat is en wat kan doen vêr bo my verwagtinge, mag ons Sy liefde ken en gevul word met die volheid daarvan wat in alle geslagte heen tot in alle ewigheid bestaan, sonder end.  Amen

 Kolossense 1:9-14

Vader, ek bid dat ek gevul sal word met  al U  wysheid en insig wat U  Gees gee, dat ek U Wil duidelik sal ken, sodat ek tot eer van die Here sal lewe deur net te doen wat Hy van my verlang.  Mag ek vrug dra deur goeie werke en toenemend gevul word  met die kennis van God.  Mag God deur sy wonderbare krag my alle sterkte gee om in alle omstandighede geduldig te volhard. Met blydskap sal ek die Vader dank wat my geskik gemaak het om deel te hê aan die erfenis wat vir die gelowiges wag in die ryk van die lig.  Hy het my uit die mag van die duisternis weggeruk en my onder die heerskappy gestel van sy Seun wat Hy liefhet.  Deur die Seun het ek  die verlossing verkry, die vergewing van my sondes.  Amen.

 Fillipense 1:9-11

Ook bid ek dat my liefde al hoe meer sal toeneem in begrip en fyn aanvoeling, sodat ek die dinge sal kan onderskei van dit wat regtig saak maak.  Dan sal ek op die dag wanneer Christus kom, onberispelik en sonder blaam wees, en deur Jesus Christus sal ek  geheel en al in die regte verhouding met God wees, tot sy lof en eer.

 2 Tessalonisense 1:11-12

Here, ek dank U dat U my waardig maak vir die lewe waartoe U my  geroep het, en mag U deur U krag my liefde vir die goeie en die werk van die geloof volkome maak.  So sal die Naam van ons Here Jesus  verheerlik word, en ek deur Hom, in ooreenstemming met die genade van ons God en van die Here Jesus Christus.

2 Tessalonisense 3:1

Here, ek bid vir my familie en gemeenskap, sodat die woord van die Here vinnig mag versprei en oral in ere gehou mag word, en ook dat ons van perverse, bose en slegte mense verlos sal word,  want nie almal is gelowiges nie.  Maar die Here is getrou en Hy wil ons versterk en beskerm van die bose een.

 Amen.

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.